Monday 27 January 2014

Teenoorgesteldes en Antonieme


 Die basiese taalwerk wat jonger kinders begin om te leer is teenoorgesteldes. Ek het 'n paar kaartjies saamgestel wat kinders kan gebruik om 'snap' mee te speel. 

Soos julle teenoorgesteldes behandel kan julle ook vir hul verduidelik van Antonieme, wat tog maar dieselfde is. Verduidelik altyd eers wat nuwe woorde beteken voor julle met die woorde werk.

Vir ouderdoms doeleindes het ek twee stelle gemaak. Teenoorgesteldes vir jonger kinders en Antonieme vir bietjie ouer kinders.

Laai die teenoorgestelde snap kaarte hier af. Die pakkie bestaan uit 50 kaarte (saam met sy teenoorgestelde maat)

Druk dit so uit:
Druk die kaarte op karton uit. Lamineer die kaarte sodat dit nog baie lank netjies kan bly.



Vir die kinders wat al klaar die basiese teenoorgesteldes baasgeraak het, kan dan met die Antonieme kaarte ook 'snap' speel.


Laai die Antonieme snap kaarte hier af. Die pakkie bestaan uit 80 kaarte (saam met sy Antoniem maat).

Druk uit soos bo verduidelik.




Die kaarte kan natuurlik ook gebruik word as flitskaarte en spelling vaslegging.

Nog idees hoe om die kaarte te gebruik:

Klop die klok (woordpas) speletjie:
Plak 'n paar van die woorde op 'n muur of witbord vas. Sit die ander op 'n tafel met al die woorde na onder (sit eers agterop elke woord 'n stukkie wondergom vas). Neem 'n stophorlosie en laat jou kind dan so vinnig as moontlik die regte teenoorgesteldes of antonieme by sy regte maat sit. Julle kan elke ander dag die oefening doen. As die kind sy eie rekord gebreek het gee vir hom/haar 'n prys. Broers en susters kan dit saam doen, eerste een met meeste korrekte plasings wen.



Geheue speletjie:
Sit die woorde met die woord kante na onder. (rond en bond maar in netjies rye). Jou kind kan dan twee kaarte op 'n slag om draai. As die twee kaarte 'pas' bly die gesig kant na bo. Indien dit nie pas nie, moet dit weer omgedraai word met die 'gesigte' na onder. Hou so aan tot al die kaarte se woorde na bo wys. Om dit af te wissel kan dit ook met 'n stophorlosie gedoen word vir die kinders wat hou van kompetisies. Dit is baie goeie oefening om 'n goeie geheue op te bou.


Lekker speel.

Groete

Maryna

0 comments:

Post a Comment